Walther von der Vogelweide

Walther von der Vogelweide (Groot Heidelbergse Liederemanuskrip, omstreeks 1300)

Walther von der Vogelweide (* omstreeks 1170, geboorteplek onbekend; † omstreeks 1230, moontlik in Würzburg) word as die voorste Duitssprekende lirikus van die Middeleeue beskou. Sy digkuns val in die Middelhoogduitse periode.

Historici het verskillende hipoteses oor Walther se geboorteplek ontwikkel. So is hy moontlik op 'n plaas met die naam Vogelweidhof in die Eisack-vallei naby Bozen (Bolzano), Suid-Tirol, gebore. Nogtans lyk Neder-Oostenryk 'n meer waarskynlike geboortestreek te wees. Walther is in 'n familie gebore wat by die sogenaamde laer diensadel gereken word. Hy het sy opleiding as digter in Oostenryk deur Reinmar die Oue (Reinmar der Alte) ontvang. Gedurende die regentskap van hertog Leopold V (1177−1194) en sy seun en opvolger Friedrich (1194−1198) het hy 'n bevoorregte posisie aan die Weense hof beklee. Hier het hy van sy mooiste natuur- en Minnesang-liedere gekomponeer en voorgedra wat deur hul lewendige uitdrukking van gevoelens, aantreklike onnoselheid en soms moedwillige guitigheid gekenmerk word.

Meer as 'n honderdtal tekste uit sy pen is oorgelewer. Die laaste lied, wat gedateer kan word, is die sogenaamde Elegie. Dit bevat 'n oproep gerig aan die ridderskap om deel te neem aan Friedrich II se kruistog van 1228/1229. Sodoende is die herfs van 1227 as ontstaantydperk bepaal. Navorsers neem aan dat hy kort daarna of omstreeks 1230 oorlede is aangesien geen lied oorgelewer is waarin die kruistog se suksesse besing word nie. Walther von der Vogelweide het sy laaste rusplek volgens oorlewering in die kruisgang van die Neumünster-kerk te Würzburg gevind.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search